Waterkringloop

Die waterkringloop

Die waterkringloop, ook bekend as die hidrologiese siklus of H2O-siklus, beskryf die voortdurende beweging van water op, oor en onder die oppervlak van die Aarde. Hoewel die balans van water op die langerduur redelik konstant bly, beweeg indiwiduele watermolekules voortdurend in en uit die atmosfeer. Die water beweeg van een reservoir (opgaarplek) na 'n ander, byvoorbeeld van 'n rivier na die oseaan, of van die oseaan na die atmosfeer deur die prosesse van evaporasie, kondensasie, presipitasie, infiltrasie, afloop en ondergrondse vloei. In die proses gaan die water deur verskillende fases: van vloeistof (vloeiende water), vastestof (ys) en gas (waterdamp).

Tydens die waterkringloop word energie uitgeruil, wat tot temperatuurskommelinge lei. As water verdamp absorbeer dit energie en koel die omgewing af. As dit kondenseer word die energie weer vrygestel, wat die omgewing verhit. Hierdie uitruiling van hitte beïnvloed die klimaat. Water word ook gesuiwer as dit van een reservoir na 'n ander oorgedra word, dit vul die voorraad varswater aan en versprei minerale oor die planeet. Tydens die proses word die geologiese eienskappe van die planeet ook verander, omdat dit erosie en sedimentasie veroorsaak. Water is ook absoluut noodsaaklik vir die instandhouding van lewe en ekosisteme.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search